Thursday, May 15, 2008

Troue


Onthou julle die storie oor die troue? Ek sit weer hier as julle vergeet het - maar hier is die foto!

Die uitnodiging na die troue het 9 uur gesê. Die bruidegom het gereken dat as ons om 10:30 daar is, sal ons net betyds wees. Hy bel toe Sondagoggend om te noem dat die bruid laat is en dat ons eers 11:30 moet kom. Teen 1 uur het die bruid opgedaag - onder 'n groot groen sambreel agter op 'n wit Nissan Nevada bakkie met 'n gejuig van toeters en musiek. Jip, mens speel nie met Afrika tyd nie. Maar ek moet noem dat dit een van die mees vreugdevolle okkasies was wat ek ooit beleef het. Die bruid en bruidegom was spoggerig in 'n tradisionele westerse wit trourok en lang baadjiepak met goue onderbaadjie en das. Die strooimeisies pragtig in liggroen rokke en fyn silwer sandale en die strooijonkers elegant in pakke met room onderbaadjies en das en die hofknapie in 'n identiese 3 stuk pak . Die blomme meisie was 'n prentjie in 'n wit prinses rokkie. Die saal pragtig versier met wit St Josefslelies en feetjieliggies en wit draperings. Die tantes van die bruidegom was tradisioneel aangetrek en het hulle tradisionele danse en liedjies gedoen - 'n belewenis op sy eie. Die bruid se familie was deftig in westerse styl. Die troue begin met die bruidegom en sy tante wat in die gang afdans na voor, gevolg deur 'n strooijonker, strooimeisie afwisselend tot die blommemeisie en hofknapie roosblare strooi, waarna die bruid en haar pa in die paadjie afdans. Almal drom om die paadjie saam en dans saam -ons klomp whiteys het ons verstom. Die seremonie was baie sterk spiritueel met volop "hallelujas" en gebede en die nagmaal en kerse aansteek seremonie amper in die katolieke tradisie. Baie mooi, met die "toast" op die paartjie ook met 'n sterk godsdienstige inslag. En toe begin die toesprake - honderde, of so voel dit. Iewers teen 2:30 het ons voorgereg geëet en die bruidsparty fotos geneem. Ek reken die fotos gaan heel uniek wees want dis in die tuin van die Transvaal musuem geneem so tussen die dinosaurus skelette. Teen 3:30 was dit my beurt om te praat namens die bruidegom se werk - gelukkig kon ek nog 'n laggie uit die skare kry, maar dit was kostelik om die omies te sien sit en slaap midde in al die toesprake. Die een bly so afsak, afsak, tot hy wakker skrik, sit dan weer regop en dan begin die proses weer van voor af. Teen 4 uur het ek stilweg uitgeglip - moes nog vir Kleinkatjie by Ouma gaan haal en die arme Ramkat is toe ook al heel dag aan babas oppas. Die res van die kantoor is teen 5 uur weg - toesprake nog nie heeltemal klaar nie en middagete nog nie bedien nie. Maar dit was vrolik en interessant en die bruid het gestraal. Maar ek besef alhoewel ek in Afrika bly is Afrika tyd nie vir my nie.

2 comments:

Anonymous said...

Hi,Kiets en die res van die maters,wat n' wonderlike nuwe skoon werf,Kiets dankie vir jou insette,en moeite,mooi dag vir elkeen!!!!

Anonymous said...

increase backlink top seo backlinks purchase backlinks