Monday, July 28, 2008

Julie is op 'n einde


More almal - heerlike sonskyndag!

41 comments:

Anonymous said...

Voor die middag dong slaan wil ek darem net sê Goeie môre al die maters...mag elkeen van julle die sonskyn se warmte in jul harte voel,dis die begin van n' nuwe week....niemand van ons weet wat voorlê....Gryp elke oomblik en maak die beste daarvan....ons plaas stoep is maar stil deesdae....Kom ons kikker dit bietjie op met vrolikheid...ek weet die winter koue vat aan ons...maar ons kan mos ons eie warmte uitstraal...so kom...ek gaan heerlike groente sop met stukkies vleis in maak...wie gaan vir ons die brood bak en die vars plaas botter maak....en die vrolike blommetjies vir die tafel....en ja,hope en hpe hout vir die kaggel....kom,laat ons weer soos van oud saam kuier ,lag en net heerlik ontspan....en onthou die glimlag vir die dag!!!!....☺☺☺☺

Anonymous said...

Robyntjie, geniet van jou kaggeltjie en jou winterkossies. Is nie hier nodig nie, dis "Durban weer", weet nie of dit moerwarm of snotwarm is nie. 35 Grade en bedompig, en die kaassies braai op hulle manier. Dit stink! Ek wag nou vir 'n lekker donderstorm. Dis seker ook nooit goed nie nè?

Anonymous said...

Jo jo - maar dis stil hier. Ek dog dis net ekke wat baie besig is maar lyk my almal is. Hoor toe nou 'n baie oulike naam vir my nuwe motortjie - 'n "Snoetbussie" - (MPV) is dit nou nie erg oulike afrikaans nie?

Anonymous said...

Middag!! Sjoei, ek's alweer lus vir 'n vakansie. Gelukkig het ek ooms met plase in Afrika, een met 'n Hoëveld-plaas en een met 'n Bosveld-plaas. Ek dink die Bosveld-plaas gaan binnekort besoek word. Ek en Liefmens en Sus en Swaer gaan langs die spruit waar ek as kind kleilat gegooi het ons tente staan maak, sonder krag, sonder heinings, net ons en die bosse en die maan en die sterre en die stilte en die spruit waar ons stroom-af gaan gesig was en stroom-op gaan drinkwater skep. ;-)

Anonymous said...

Spikkels, julle gaan tog lekker oor klippe struikel en boomwortels val want dis donkermaan... ;-))

Anonymous said...

Spikkels, 'n Bosveldplaas, sonder mense wat jaag, Paradys! Ek's jaloers, net soos Jeweeltjie.

groeni said...

hey, wa's almal? nee magtig man, blommetjie wei al in buurman se plaas, wie maki hekke toe ni! geluk met nuwe broem kiets..eks ok jaloers. anner koos wat bloues wou koop het my ok mos weer gepla, ma ek het besluit, nah, bloues is nog te mooi om te verruil..

Anonymous said...

Kaasie, vyf soene vir jou!!!!!!!! Ek mis nogtans vir Vlakkies....

Anonymous said...

Ek't 'n klein flitsie... ;-)

Anonymous said...

Ai hoe sukkel ek nou vandag met die vonkerasie. Smaak my Somalië se seerowers het die telefoondraad wat onner die see deerloop, geknip of iets. Kyer gistraand so vir 'n rukkie op 'n anner plaas waar ek ok so van tyd tot tyd gesig wys. Daar vertel 'n niggie genaamd "E.... vannie plaas" lat sy nou annerag wanner virrie eerste keer kaiïngs geëet het. Wonner ek toe so by my sigsellers nou van wat virre plaas af sy kom. Seker 'n hoenerplaas of 'n visplaas of een of anner anner soort van groenteplaas af.
Nou toe het verskeie vannie manne iets te vertelle gehad oor kaiïngs. Maar ek kon toe ok nou agterkom pety van hulle het ok nog net van kaiïngs gehoor. Dis die lat ek toe nou beslyt ek sal maar moet vertel wat kaiïngs nou eintlik is en waarvoor lat mens dit gebryk. Dis die lat ek toe vir hulle hierie storie van kaiïngs vertel.

Nee, Petrysie, dissie daai soort storie nie. Dis die lat ek hom heller oordag vertel, anners droom jy venaand jy't maagpyn.
Laat ek nou gou ‘n paar mites oor kaiïngs nek omdraai. Ek sien pety mense sê kaiïngs word van vark gemaak. Dit is net ‘n halwe waarheid. Jy kry vark- skaap- en beeskaiïngs, hierie drie, en die grootste hiervan is skaapkaiïngs. Dan is dit okkie waar lat mens kaiïngs maakie. Kaiïngs issie neweproduk wanner jy vet ytbraai. En nou praat ekkie van enige vettie. Ek praat van kookvet. Dis nou daai soort vet wat jy gebruik om panne mee te smeer om te keer lattie brood, grootkoeke en kleinkoekies aanie pan vasbrand. En wat jy aan jou hanne smeer as jy brood knie, om te keer lattie deeg aan jou hanne vasklou. En wat jy innie pan smelt as jy eiers of lewer en niertjies of enige anner panbraai goeters gaarmaak. En as jy vetkoek of lewerkoekies of pampoenkoekies bak. En as jy skaaplewer oppie rooster braai, sny jy daai gaar lewer so in repies en doop hom innie sagtevet voor jy hom in jou mond steek. Of jy smeer hom op varsgebake boerbrood en strooi fyngestampte biltong oor. Daarvoor moet jy sagtevet gebryk. Hardevet braai jy yt om boerseep mee te kook. En daai kaiïngs meng jy met pap en gee dit virrie honne om te vreet.
Kaiïngs vir menslike gebryk kom van sagtevet. Die kry jy in skaapstert – verkieslik die stert van ‘n lekker vet jong hamel. Dis nou die langstert soort skaap. Soos karakoelskaap. Nie dorpers met hulle se verspotte opkrulstertjies nie. Jy vat daai skaapstert en da' sny jy die vet so in repe af, tot nettie stertjie oorbly. Dis nou daai stringetjie werwels met so ‘n vleiserageitjie aan wat innie mirrel sit. Moenie hom weggooi nie. Hy is koningskos, so sit hom eenkant. Die repe vet wat jy afgesny het, sny jy nou in blokkies wat lekker in ‘n vleismeeltjie kan maal. Ma het altyd ‘n skaapskêr innie kombys aangehou, en dié werk lekker ommie repe vet in blokkies te sny. Da' maal jy daai blokkies vet soos jy van hom hou. ‘n Growwe siffie maak growwe kaiïngs en ‘n fyn siffie lekker fyn kaiïngs. Da' gooi jy daai gemaalde vet inne kastrol en sit dié oppie stoof. En jy sit daai skoongesnyde stertjie daarby. Maar nou moet ek eers waarsku: As almal in jou hys nie die maag het vir die ryk van vet wat ytbraai nie, doen dan liewers hierie deel byte die hys. As daai vet nou lekker als ytgebraai het, gooi jy die vet af. Daarvoor gebruik jy ‘n meelsif en gooi die hele lot daardeer, solattie sif allie kaiïngs opvang. Maar haal eers daai stertjie yt en sit hom eenkant om solank af te koel.
Solankie vet deerloop, vat jy jou knipmes en gaan sit oppe plek waar niemand anners jou kan pla nie, en eet die vleiserageitjie vannie stertjie af. Nie lat jy die vleiserageitjie hoef af te sny nie. Jy syg eintlik daai vleiserageitjie so van die beentjies af, so saf is hy. Die knipmes gebryk jy net om allie lekkerte ytie hoekies en gaatjies yt te krap. As jy nou klaar is daarmee, loop jy badkamer toe en gat loop wassie vetsop van jou hanne en voorarms en elmboë af. Teen daai tyd het die vet mooi deergeloop.
Nou, sodra daai kaiïngs koel genoeg is, vat jy ‘n stewige skeppie daarvan, meng dit met Illovo’s goue stroop, sny ‘n lekker dik sny vars gebakte boerbrood, smeer van daai pasgestolde vet daarop en dan die kaiïngs-en-stroopmengsel bo-op. Maar in jou beplanning vannie hoeveelhede van kaiïngs en stroop moet jy nie te synig weesie, solat daar darem nog so ‘n goeie eetlepel vol oor is as jy jou brood klaar gesmeer het. Nou gat loop sit jy lekker rustig waar niemand jou kan pla nie met ‘n blikbeker moerkoffie en eet daai dik sny brood mit smaak. Daarna vat jy daai lepel kaiïngs en stroop wat oor is en eet hom so klein happie vir klein happie op. Kyk, nou kwyl ek darem vir jou my slimmasien se knoppiesbord so sopnat lat dit smaak hy gaan nou ‘n kortslyting maak. Dit smaak mos nou agterie oor.
Die laaste mite wat ek wil nekomdraai is die een van lat te veel kaiïngs jou goormaag gee. En ek weet ok nie wat vir 'n ding kolestrol is nie. Die dokter het hoeka destyds vir oorle oupa Krisjan Witbaadjie gesê as hy aan sy hart moet doodgaan, sal hy vir altyd lewe.

Anonymous said...

Ai die slimmasien dam. Eers wil hy nie my storie vat nie en toe skryf ek nog my naam in daai blokkie, toe vat hy hom sommer en toe's ek eensklaps Anonimis. Wonner waffer soort mis is dit.

Anonymous said...

Sjoe Vlakkies jy het kaiings en die soete gedagte daaraan nou weer vir my laat herleef. Ek het nooit gesien hoe Ouma hulle dit doen nie. Al wat ek kan onthou is die klein Hart potjie op die gasstoof as jy by die deur inkom, het sulke fyngemaalde kaiings ingehad. En dit was tog lekker as jy so eetlepel vol kon skep. Wragtig ek wil vir jou sê my bekkie water ook nou. Ek het darem nog 'n pak marrow-bones hier en oorlat ek ook nie bekommer oor kolestrol is dit vanaand die voorgereg. Dankie Vlakkies vir jou mooi beduie van kaiings.

Anonymous said...

O ja oor die stertjies..... Ma Roos en Manlief braai daai stertjies so oor die kole en dan vervreet ons, ons lekker aan die kolestrol........

Anonymous said...

Ek wou vanaand rustig gewees het, ook met kos. Maar nou gaan ek dit oordoen want ek vrek vannie honger. Vlakkies, my pêl, dis jou fout!

Anonymous said...

Miekie, moet jy nie voor die boeke sit nie? Ek het geweet jy groet te vroeg voor die eksamens!! ;-)) Ek spot sommer, hoor? Na Anonimis se storie is ek nou bang om iets te sê oor kaiings want netnou dink hy ek het ook op 'n visplaas grootgeword... Vir my is kaiings en 'bron' en bobotie en afval huiskos. Dis iets wat jou Ma vir jou gemaak het nog voor jy verstand gekry het en dis soooo lekker dat jy skoon vergeet het (of nooit daaraan gedink het) om vir haar te vra hoe sy dit maak of van watse karkas sy daai smaaklikheid gekry het nie. Sy sal mos vir ewig lewe om altyd hierdie lekkernye vir jou te berei... Jy sê net: "Oe, Mamma, dis heeeerlik!!", want dis mos spesiaal vir jou gemaak toe sy hoor jy kom kuier. Dan kry ons ook sulke wit boersepe wat enige vetkol kan uitwas en lakens spierwit kan hou... Ag, my liewe, liewe Vlakkies - my hart verlang nou na my Ma se plaaskombuis daar op Lydenburg - wonder wat eet hulle vanaand? Skitterende vertelling van jou - baie dankie!!! Wil jy nie nog 'n mite vir my regstel nie? Daai een van 'koebaai, ek gaan bos toe vir 'n week' en dan hoor jy nooit weer van AntjiePatat en Fluitjie nie? ;-))

Anonymous said...

Ag Jeweel jy's reg! Ek het heeeeeeeeeltemal te vroeg gegroet. Ek mis julle te veel, en terwyl ek dan nou nog mag en kan, is elke oomblik saam met julle maters elke dag vir my soooooooooo lekkerrrrrrrrrrrr. Ek het nog nie eens met julle my bokkie van die naweek gedeel nie......

Terwyl ek op die jagvoertuig sit, sit daar so bleek mannetjie langs my... en sê Mieks my hart is elke keer seer as 'n bok skiet.

Kyk ek het al baie kere nie 'n antwoord gehad as iemand so stelling in my rigting stuur, maar ek het hom Saterdagoggend gehad, die regte tyd, die regte plek.

Ek sien dit so: Die natuur sorg vir my as mens, en ek as mens doen ook my deel vir die natuur. Issit nie so nie? ....... as iemand my verkeerd kan oortuig haal ek die Springbok uit my vrieskas en gee dit vir iemand wat dit meer nodig het as ek!

Vlakkies hierdie keer was baaaaaie moeilik vir my. Dit was 180m en met 'n 243. Vorige keer was 60m met 30.06? Laaskeer het my boetie my uitgetrap oor ek verkeerd gesê het watter geweer dit is. Maar jy weet mos waarvan ek praat!

Anonymous said...

Miekie, ek weet nou nie van gewere nie, maar Loverboy het vir my so 'n klein Magnumpie gegee toe Mr. Mandela Presedent geword het. Dis amper 15 jaar gelede, né? Toe gaan ons eenkeer Karoo toe en hy sê ek moet leer skiet nadat ek nou mos daai Magnumpie al vir hoe lank tussen my charlies koester - sonder liksens, maar darem met 'n toestemmingsbriefie van Loverboy ewe knus in my handsak! Neef Bobby het sy geelbladsye teen 'n klip staangemaak, ek het die enigste skoot van my lewe afgevuur en die koeel is dwarsdeur die dikste geelbladsye ooit!! Oe, ons was trots-verby!!

'n Ander slegte ervaring met die Magnumpie was toe ons hase gaan jag het op 'n vriend se plaas. Jy soek ogies wat blink. Kry hulle! Loverboy dog dis 'n jakkals en skiet, maar toe was dit 'n Klipspringertjie wat "beeeeeeee" skree!

Alle ogies blink in die aand - joune ook? Kyk mooi na jouself!!!!

Anonymous said...

Nee-Nee ek sit uit met nagjag Jeweel! Geen manier dat ek daai trappie oorstap. Ek wil veilig voel. Nietemin ek het 'n byt gekry en dit is 'n wonderlike avontuur. Al doen ek dit net eenkeer 'n jaar. Die hele dag in die natuur was die beste pasella ooit.

Anonymous said...

Heeltemal reg Miekie. As dit 'n 30.06 was, was dit 'n 30.06. Disse .30 kaliber (of 7.62mm)koeël wat in 1906 geontwikkel is. My jaggeweer is 'n ou 308 oppe K98 Mauser aksie. Die beste aksie wat jy kan kry. 308 is ook 'n .30 kaliber, maar mitte korter dop assie 30.06. So hy trek bietjie stadiger. Maar as jy raakskiet gat daai bok nie loop stane argumenteer offie koeël 'n paar meter per sekonde vinniger of stadiger deer hom issie. Hy gat steeds val. 'n 243 isse goeie kaliber virre springbok. Hy is .243 vanne dym of 6mm. Lekker ligte vinnige kaliber. Geluk mit jou springbok. Los hom net daar innie vrieskas en geniet hom. Het jy sy lewer gebraai? Dis mos jagterskos daai. Nee Jeweeltjie ek kannie daai ene verklaarie. Smaak my mos alteveel na awol.

Anonymous said...

Vlakkies, hoe nou? Praat jy van my Magnumpie of Antjie?? En ek weet van lewertjies braai in die jagseisoen!!!!!! Wat ons geliefde Antjie betref.... Sy sal seker weer kom maanwater maak!! Kaasie, wat het jy alles verorber vanaand? Groenie, hou jy huis met jou bakleierige Snoet? Ek wens elke dag dat ek haar kan raakloop om vir haar geluk te sê - dis 'n prestasie! Baie geluk aan julle ook!

Anonymous said...

Vlakkies dankie jy verstaan tog. Oor die lewer .... toe ek tuiskom Saterdag vra Sus se seuns het tannie die lewer gebring.... oor dit is ek spyt! Die manne jagters is mos slimmer en meer geleerd en weet daai lewer is lekker. Ander ding wat ek ook geleer het is die skottels, of plastiek oortreksel om so 'n bok te vervoer van 'n plaas na die slaghuis. Ek leer nog. Maar ek leer vinnig :-)

Anonymous said...

Na Vlakkies se pragtige kaiings storie is ek nou so honger toe trek ek 'n rib eye uit die vrieskas en eet hom saam gebakte aartappels en uieringe. Ook nog bietjie groentetjies maar eintlik meer vir die kleur. Toe onthou ek ek het ook nog 'n magnumpie, is mos lekker roomys daai.

Anonymous said...

Al die plaasmaatjies!! Jippeeee, uiteindelik, na 'n vreeslike gesukkel is ek ook weer hier. Vlaktekind het my vertel dat hy 'n storie van soorte vertel het... en die van julle wat van sulke vetterige goette hou, kwyl maar, ek eet nie saam nie!! Het as kind 'n aardige ervaring gehad met vetterige goed, sal in my dag des lewens nie sommer weer so iets eet nie!! Ek is oortuig daarvan dat elkeen van julle so 'n storie het van iets wat jy om-een-of ander-rede nooit-ooit weer sal eet
nie!!
Jewlsie, het al weer heerlike(!?!) drama met die duimpie gehad.. 'n Ellendige storie, met gips en al!!

Micky, hoe gaan dit met jou studies? Hierdiekant gaan dit rowwerig. Toetse het reeds begin, en dit lol, want nou storm ons af op die einde van die jaar!

Nou toe, laat Vroulief tog maar weer die neus in die boek kry, want die duim en sy mannewales het veroorsaak dat ek met heelwat werk agter is...

Anonymous said...

Jippieeeeeeee! Vroulief was hier. Ek hou nou nog eers bietjie vakansie Vroulief. Ek kry die 13de Augustus my nuwe boeke en dan is dit weer vasbyt tot einde Oktober, Nog nie seker wanneer die eksamen gaan plaasvind.

Intussen hou ek styf duim vas vir jou met jou eksamens!!! Eers was die hele eksamen stories vir my 'n vreeslike straf. Toe ek egter begin met my werkstukke en ek sien die lig in die donkerpad, toe begin dit lekker te word.

Hierdie nuwe een wat ek nou aanpak hoef ek eintlik eers volgende jaar te doen, maar terwyl ek nou so gemotiveerd is, het ek besluit om maar deur te druk. Hoe sê hulle: "Wat klaar is, is klaar".

Anonymous said...

Spikkels jou e-pos was baie mooi. Dankie!

Anonymous said...

Brothers in arms.... take my away to my dreamland.

Anonymous said...

Oepsie toe maak ek 'n spelfoutjie gisteraand... Jippie dit is VRYDAG!!!!

Anonymous said...

MOre more almal! Julle moet dink ek het heltemal verdwyn, maar ons het probleme hier met die tegnologie gehad. Nou is ekke weer hier om lekker te gesels. Waar's Groeni? Lekker naweek vir almal! EN na operasie nommer 3 op die retina is moeder se oog nou reg. Dankie tog.

Anonymous said...

Ek moet eintlik nie my gedagtes met julle deel vanaand nie want ek voel heeltemal oorstuur!! Tog het ek rede om te juig, te midde van die donkermaan... Bergbok, sien jy, ek het jou nie vergeet nie!! ;-)) Dis maar so dat mens nie altyd weet wat in mense se lewens aangaan nie en tog van hulle verwag om 'happy' te wees. Die ander dag het ek my selfoon afgesit vir 3 dae net om te ontsnap van die voete wat my winkeltjie besoek... Kyk, as jy een week in my skoentjies deurgebring het, sal jy nie vrae vra nie - jy sal net verstaan!! Met hierdie wete sit ek nou skoon skaam voor julle. Askies toggie! Katjie, ek is regtig bly oor jou Mams se ogies weer kan sien. Miekie, dankie dat jy die donker wolke so wegvee met jou opgewondenheid om te studeer. Dis sonneblommooi!! Vroulief, is dit nou gips of glips of albei? Ek dog dan jy ken die 'dril' teen hierdie tyd, jou stoutertjie!! Wat het gebeur?

Kaasie, vandag het ek in Pick en Pay langs die roomys-yskaste verby geloop en spesiaal gekyk hoe lyk 'n Magnumpie. Toe koop ek vir my 'n samoesa by die Indier tannie om van die soet gedagte ontslae te raak!!! Nee man!!!!

Robyn. Op jou stil manier juig jy saam met my, né? Ai!!!!

Groenie, Bloues is niemand s'n behalwe joune nie!! So bly jy het vasgeskop teen die verkoop daarvan!
Ek het gister altwee my motors gewas, gepoleer en vandag trots gevoel dat ek die goeters versorg wat vir my belangrik is! En Woensdag daal die petrolprys met 'n allemintige 24 sent!! ;-))

Vlakkies, nog 'n vragie vir jou: Hoe maak mens gemmerbier sonder daai grillerige sultana's wat later begin dryf en so vet word? Soos borsluise!!

Nee, ek verlang nie plaas toe nie, ek gril!!!!!!! Jy weet seker hoe dit klink en voel as jy 'n borsluis onder jou voet doodtrap? Oe!!!!!

Anonymous said...

Jeweeltjie, ek is jammer vir jou, maar resyntjies in gemmerbier is soos sout in kos, sierdeeg in brood, bye op blomme, reent innie veld, liefde in Petrysie se hart, omgee in Jeweeltjies. Die een kannie sonnerie anner nie. Gemmerbier kannie sonner resyntjiesie.

Anonymous said...

Môre al die maters.....dit was n' erge week vir my,werk gewys, asook emosioneel,my beste vriendin van 25jr,(die van julle wat by Blue Crane was het haar ontmoet)lê in die hospitaal.....sy het Dinsdag pyne ontwikkel...24uur Nood toe gegaan...pynstillers gekry...die volgende oggend...kon sy nie bestuur...maar getrou soos haar geaardheid is,het sy dat haar man haar werk toe vat...deur die dag het die pyne erger geraak...afspraak met Dr gemaak...die middag na die Dr...Sonar geneem...en dadelik na hospitaal verwys vir nood operasie....obstruksie in dikderm...toe die Dr die operasie uitvoer....om die obstruksie te verwyder ontdek sy dat die dikderm geperfureer is en ook dat daar n' taamlike groot gewas is....sy het die obstruksie verwyder en toe maar weer alles toegemaak...dinge lyk nie goed...Maandag sal hulle n' Biopsie doen...en dan moet ons wag vir die uitslae....maar die Dr het reguit vir haar man gesê dit lyk sleg.....ek is so vreeslik hartseer....sy is nie net my vriendin...sy is my alles....ons doen en deel alles...kuier saam ,kyk rugby saam...kamp saam...en het ons kinders saam grootgemaak....ek wil haar nie verloor.....asseblief ....kan ons almal saam ogies toemaak en die Liewe Heer vra om haar te spaar...nie net vir my ontwil..maar ook vir haar man,en twee seuns....Lief vir julle...dankie vir julle wat op my pad gekom het....mooi dag vir elkeen....ek kan nie vandag vrolik wees en sê glimlag....maar ek kan wel sê,gee mekaar drukkies....en besef net vir n' oomblik hoe gelukkig is ons...en hoe dankbaar moet ons wees...xxxx

Anonymous said...

Ai, my liewe Vriendin, dis nou sleg om te hoor dat dinge nie goed gaan met Hantie nie!!!! Ek wil my nie eers probeer indink wat ek sou doen as ek vandag sulke nuus oor Veertjie gekry het nie... So 'n vriendin is soooo kosbaar in mens se lewe!! Ek plaas haar in die Heer se genade - by Hom is alles moontlik! Sterkte, my ou maaitjie!!! xxxxx

Anonymous said...

Robyntjie, hier word die ogies toegemaak, vir jou vriendin en haar gesin, vir jou, maar ook om dankie te sê omdat ons gesond is. Sterkte, jy is nie alleen nie.

Anonymous said...

Hallo Kaasie! Jy weet nie wat jy gemis het nie!! Vlakkies se boetie is weer in die tronk en die Leeus het die jagveld skoon gemaak! Sjoe, ek dink dit was amper die opwindendste Currie Cup Beker Wedstryd wat ek hierdie jaar gesien het!! My senuwees is nou aan't flarde...

Rooikoppie, hoe gaan dit nou met Hantie? Ek wil nie weer bel nie want ek dink jy is ook maar soos ek. Wanneer dinge te veel word, kry ek nie gepraat nie. Wil net alleen wees. Maar bel my asb. as jy my nodig het, hoor? Toe Veertjie vandag kom koffie drink by ons, het ek haar die druk van haar lewe gegee en al die omgee-woordjies oor my lippe laat borrel. Nie sy of Liefkind kon verstaan hoekom ek skielik so emosioneel is nie...

Vlakkies, ek het orals gevra of mens nie dalk gedroogde sultana poeier kry nie... Ten einde laaste het ek my broodmes gevat en daai 'borsluise' in klein stukkies gesny. Gedroogte vrugte sny maklik. Ek het so gedink: Vlooitjies kan ek hanteer, nie borsluise nie!! (Bosluise? - help Spikkels!!!) Môre hou ek radiokerk in die sonnetjie en drink gemmerbier!! ;-))

Anonymous said...

...op my eie patio, in my nagklere!! Dis mos my sewende dag van rus!!! ;-))

Anonymous said...

Op jou patio, in jou nagklere! Wáár is my kamera?

Anonymous said...

Sies. Die Leeus boelie kleintjies! Die Protea issie mooiste blom in Birmingham, in Ingeland, innie hele wêreld!!! Gistraand het die Koningsprotea koning gekraai oorie Ingelse koning leeu!!! Dit was so mooi. Ek het amper okke traan gepik saam mit ou Robin Jackman.

Anonymous said...

Was dit Graham wat die verskil gemaak het, Vlakkies? Ek het daai lopies gemis, maar daar's ander lopies hier oppie plaas wat ek nie mis nie! Sien mos gisteraand hoe daai engelse op sossosvlei 'n springbokkie spitbraai, maar Miekie wou nie kyk nie! Miskien is haar springbokkie in hanteerbare dele opgesny? Teen die einde van daai program was ek skoon naar want hulle het al die pad die woestyn in mashmallows en sjokolades gevat om oor groentes en poedings te gooi!! Die springbokkie oppie spit was net bysaak!!

Kaasie, ook maar goed jy kon nie jou kamera vind nie want ek het gelukkig my Ma gebel voor ek gemmerbier gemaak het. Die feit dat P & P nie rosyntjies gehad het nie, behalwe tussen gesoute grondboontjies, maak nie dat mens rosyntjies met sultana's moet vervang nie. Die ander stokkie in my wiel was dat Loverboy my 20 liter kan Kaap toe gevat het want hy het nie geweet dat ek gemmerbier wou maak nie!!! Dit was eintlik 'n hele bôggerop toe ek al die bestandele gereed het, maar nie 'n geskikte houer kon vind nie!!!

Toe ry ek kafee toe, koop Iron Brew en sit daai blikkie in die yskas vir in geval ek weer lus word vir gemmerbier!!

Hoe was jou naweek? Môre verjaar Bergbok... Geluk Vlakkies en Vroulief!! Julle seunskind is prima! Ek dink nie Sameul het iets daarmee te doene nie!!!! xxxxx

Anonymous said...

Halloooo Jewlsie ek het geskater vir jou bosluise!!
Vir my is daai bosluise heerlik!!! My hele lyf is nog steeds vol lag na ek Vrydagaand so vreeslik lekker gelag het vir Nataniël, mense, daai mens is net kostelik!

Kieter, jy was nie skaarser as ek hier op die plaas nie. Nou dat ek weer kan inloer, gryp die akademie my met 'n stewige greep vas! Ek moet eintlik 'n ding oor VIGS skryf, wat more moet in, maar dis baie beter en lekkerder om hier te kuier. Ek het net nie lus vir VIGS nie!

Ek hoop almal het 'n wonderlike week en dat daar baie meer lag as trane in ons lewe sal wees - Robyn, daarmee maak ek jou hartseer en ontsteltenis oor Hantie nie tot niks nie!! Maar mag ons almal geseen wees daarmee om deur ons trane heen ook te kan lag!!!

Anonymous said...

Vigs-kriklik is dieselfde as Aids-stekend!!! ;-))

Anonymous said...

Ek ly ok aan VIGS - Verworwe Inkomstegebrek Sindroom. In Ingels AIDS - Acquired Income Deficiency Syndrome. Nou gat ek my kantoordeer toeslyt en virrie res vannie dag mit niemand praatie. Ek het nou al my Ingels virrie dag opgebryk.